a Way of Being
SITE MAP / HOME / Contact
Being Yoga Studio / Being Well-being / Being Music and Audio / Five Keys to Well-being

'Yoga in Afrikaans'


Skrywersrede

Met 'n groot liefde vir Afrikaans, nie op 'n "taaldebat en stryder vir Afrikaans" manier nie, maar as moedertaal en daaglikse spreektaal, wou ek graag iets oor yoga in Afrikaans skryf. Hopelik sal hierdie deel van die webwerf nog uitgebrei word, moontlik kan ek selfs nog daarby uitkom om iets te publiseer, of my Five Keys tegniek te vertaal na Afrikaans. Ek voel daar is baie ruimte vir 'Afrikaanse yoga' onder die talle Afrikaans sprekende yoga mense, en veral vir Afrikaanse sprekendes wat yoga nog nie ken of verstaan nie. Die hedendaagse groei van die geestes- en welstands bewegings regverdig die bevordering van yoga as 'n universiele, gesondheids modalitieit spesifiek onder Afrikaanssprekendes wat yoga voorheen as 'n Oosterse geloof beskou het.

Nota: ek behou doelbewus die Englese spelling van 'yoga', en neem nie die Afrikaanse 'joga' aan nie.

Die yoga welstands perspektief

Yoga sien om na die welstand van beide die liggaam en gemoed deur 'n kombinasie van 'n eeue oue, dog tydlose wetenskaplike stelsel vir die bevordering van beide liggaam en gees.

Soos die geval met "Zen" het yoga 'n modewoord en -praktyk geword, en is yoga ook vir baie iets "trendy" om te doen. Met 'n holistiese benadering is yoga egter veel meer as 'n tendens, en is in werklikheid 'n allesomvattende stelsel wat effektief die algemene welstand van die mens bevorder. Sonder die beginsels van korrekte asemhaling, postuur en effektiewe mobilitieit kan geen fisiese dissipline bekostig om nie daarmee tred te hou nie, en talle moderne tendense van oefening soos Pillates is in effek op yoga geskoei.

Yoga straal 'n aantreklike beeld van soepel ledemate en vredevolle gemoedsrus uit. Soos die geval met met Zen, word daar na 'n bymekaarkomplek van liggaam en siel gestreef deur die stroping van die onnodige, 'n aanslag van diep minimalisme, en fokus op 'n soektog na 'n soort op-die-been essensie. Zen se eenvoud, die ontmoeting van die mens met die natuur in kontak met die misterie van die heelal en eeu-oue wysheid word in magiese rustigheid opgetower in in beide tuin- en huis ontwerp, digkuns en praktiese filosofie. Die kruisbeen posisie kenmerkend van yoga meditasie en asemhalingsoeffeninge weerspieël dieselfde praktiese eenvoud van styl as die Zen kuns van blommerankskikking.

Dit juis hierdie beeld van stralende gesondheid en rustige tydloosheid van yoga wat dit so aantreklik maak vir 'n samelewing suf aan oormatige blootstelling aan agressiewe bemarking van gesondheids foefies en oppervlakkige hupsheid. Yoga kan veel bydrae tot die heilsaamheid van die oueres van dae, die jong sportliefhebber, die onfikses op soek na ontspannende oefening, die soeker na sprituele identiteit en die van vaste geloofsoortuigings.

Yoga is so effektief weens die klem wat geplaas word op die nou verband tussen die fisiese liggaam en die gemoed, in yoga word beide tegelyk na omgesien. Afhangende van die aanslag en belangstelling van die praktieserende individu kan die hele yoga ervaring uiteindelik tot 'n ryp geesteservaring en verryking van die siel bydra terwyl die liggaam gesond en maksimaal funksioneel gehou word.

Die algemene beeld van yoga is die van iemand wat op sy of haar kop staan, of langbeen strek, en kruisbeen sit en mediteer. Sulke beelde van ongewone (vir die Westerling) aktiwiteit vorm kom onwilkeurig by mens op. Hoewel hierdie uibeelding inderdaad 'n akurate weerspieeling van yoga met sy langsamige, stadige diep strek bewegings en meditasie is, beeld dit ook 'n effe fratsagtige, ontoeganklike en ongwone liggaamsoefening uit. Die op-die-kopstanery skrik byvoorbeeld maklik minder atletiese belangstellendes af, omdat óf te moeilik lyk om te doen, óf omdat die oningeligte eenvoudig nie verstaan waarom dit gedoen word nie. Min mense besef ook dat die moeiliker, fratsagtige aspekte van yoga geensins nodig is vir die beofening daarvan nie; basiese asemhalingstegnieke en strekbewegings is maklik vir meeste bereikbaar.

Die beofening van yoga is wel ongewoon veral in die sin dat die meditasie / stilwees aspek en ongewone (teenoorstaande draf, gymnasium, fietsry ens.van algemene fisiese disiplienes) meeste van die algemeen aanvaarde idees rondom fiskheid en gesondheid uitdgaag. Meditasie, in aktiewe of geimpliseerde vorme, is 'n integrale onderdeel van die beoefening van yoga. Relatiewe stilte word in die algemeen gehandaaf by in 'n klas, en eie meditasie of stiltetyd aktief bevorder as deel van 'n tuisroetiene.

Die resultaat verkry deur gereelde, effektiewe yoga te doen is buitengewoon - die soepelheid en krag meegebring deur die stimulasie van asemhaling en invoer van energie via die bloedsomloop en senustelsel, lei ook tot helderheid van denke. Yoga is primer terapeuties, die massering van alle liggaamsdele bevorder algemene welstand, die gemoed word ligter’ en stres ontlading op diep vlakke gefisiliteer. Die opbou van die immuunstelsel en algemene gesondheid verleen aan die yogi 'n sterk sin van selfbemagtiging. Yoga, wanneer gereeld beoefen deur 'n gesonde persoon, is 'n primęre gesondheids behandeling sonder weerga. Newens die afweer van siektes toestande kan yoga ook as effektiewe behandeling ingespan word deur 'n yoga terapeut, in samewerking met enige ander behandeling of alleenstaande.

Yoga is dus veel meer as die sigbare oefeninge en die meditasie, al vorm hierdie twee eienskappe die hoeksteen van die stelsel. Integraal aan beide is die asemhalingstegnieke, en daarmee saam ook die metafisiese en filsosofiese oorwegings tussen energie en gesondheid, en die verkennning van die noue bande tussen gesondheid van liggaam en gees. Yoga is dus ook 'n omvangryke ervaringsproses wat 'n groter bewuswording van die innerlike węreld sowel as die fisiese liggaam aanwakker. Innerlike vrede word nagestreef deur harmonie te bevorder tussen die persoonlikheid, die intellek, emosie en die idealisme van die siel en die realisme en uitdagings van die węreldse lewe. Yoga neem spesifiek die totale ervaring van ligaam en gees as lewenstyl oorweging in ag.

Hoewel yoga uit Hinduisme ontstaan het, en kultureel gekoppel is daaraan is dit nie opsigself 'n geloof nie. Yoga is eerder 'n geloof in die helende magte van 'n gesonde liggaam, en die oortuiging dat 'n gesonde liggaam ook 'n gesonde gees sal huisves. Die liggaam word ontwikkel as tempel vir 'n hoer bewussyn, of geesteslewe. Volgens yoga is innerlike vrede en vrywaring van siekte is die beste beginpunt om die basiese potenasiaal van die gees te ontwikkel en benut, 'n belangrike aanknopingspunt toeganklik vir enige religie. Sodoende kan die mens tot sy reg kom, en sy plek in die węreld inneem, met die nodige welstand en vastigheid nodig op die lewensreis. Hierdie reis is een van selfondekking, en nie een van ondeurdagte navolging van voorskrifte nie - selfverwesenliking impliseer self-disipliene vir self-bemagtiging aan die hand van die gees.

Dit is moontlik hierdie andersheid van yoga wat vir jare veroorsaak het dat dit met agterdog deur die konserwatiewe en fundamentele vlakke van die samelwing beëin is. Tog is dit juis dit wat yoga so effektief maak: in 'n dringende en indringend besige węreld het ons stilte tyd nodig, en in 'n gemaksugtige węreld van ongenoegsame fisiese aktiwiteit is die spesiale oefeninge van yoga broodnodig om die liggaam funskioneel in stand te hou. Die hedendaagse węreld is ook oorlopens toe vol van negatiewe manifestasies van materialisme en spiritualisme, en 'n balans tussen die twee is presies wat moderne yoga aanwakker.

In die nuwe "global village" met sy minder kulturele afsondering is daar meer blootstelling aan nuwe gedagtes. Ons moderne planeet is inderdaad 'n globale dorpie waarin daar meer ruimte is vir selfondekking as ooit tevore. Die enigste vereiste is belangstelling in die ontwikkelling van die self, die verkenning van die innerlike geestes ruimtes en die fisieke welstand van ons liggame. In minder verligte tye was sulke begrippe ontoeganklik vir die gemiddelde persoon, vandag kan 'n gesofistikeerde inboorling van die aarde die eenvoud van sy landelike voorgangers smaak midde 'n 21ste eeuse bestaan en dit terselfdertyd vermeng met antieke wyshede. Die uitdaging bly daarin om, soos die ou spirituele wysheid dit so mooi opsom, te lewe in die węreld, maar nie van die węreld nie.

So sien yoga om na die welstand van die mens deur die kweek van 'n bewussyn van die potensiaal van liggaam en die gees. Die uiterlike disipliene is slegs die omringende vorm, die onderliggende inhoud is gebaseer op 'n filosofie wat 'n soepel liggaam as huisvesting van 'n soepel gedagtegang bevorder, en 'n liggaam wat onder beheer is van 'n helder intellek en beheersde emosie. So kan die mens, gelei deur die universiele gees, in harmonie met die skepping leef.

Style en beofening

Enigeen kan yoga beoefen, dit is slegs 'n kwessie van aanklank vind met 'n styl in terme van die moeilikheidsgraad van die oefeninge, en die vlak van spirituele, of metafisiese betrokkenheid.

Die begrip van yoga wentel om die verwesenliking van die potensiaal van die individu wat dit beoefen. Die spil waarom dit alles draai is die houding, of invalshoek waarmee dit gedoen word, hetsy dit die uitvoer is 'n uitdagende beweging, 'n eenvoudige 'n strekoefening, of 'n diep meditasie.

Yoga in sy totale vorm neem, selfs met toewyding deur die ernstige student, jare om te bemeester. Spesifieke aspekte van yoga kan egter uitgelig en aangepas word om deel te word van enige leefstyl om sodoende lewenskwalitiet te bevorder.

Verwestering het noodsaaklike veranderinge in tradisionele Indiese yoga meegebring, en vandag se tradisie is nie meer die yoga van ouds nie. Meeste vorme van yoga is steeds geskoei op die tradisionele sisteme, maar terwyl sommige style die tradisies doelbewus behou is daar baie individuele instrukteurs en bewegings wat reeds yoga totaal aangepas het by hulle eie filosofiee, kulture en lewens onstandighede.

Integrale yoga, waarvan die Sivananda skool die bekendste is, sluit al die aspekte van yoga in. Inkluis is die sogenaamde "Hatha yoga" (hoofsaaklik die oefeninge, of asana), asemhalings tegnieke, of pranayama, ontspannings tegnieke, meditasie en lewenstyl dissiplienes wat die welstand van die liggaam deur beginsels van dieet en persoonlike reinheid te bevorder. Integrale yoga kombineer die wysheid van yogi's se studie deur die eeue met die insigte en insigte en wetenskap van die moderne eeu. Integrale yoga bevorder ook die begrip van yoga as terapie (remediele yoga) vir behandeling van siektes, beseerdes en gestremdes.

Iyengar yoga is die naam verleen aan een van die mees algemeenste yoga oefening stelsels. Dit is vernoem na BKS Iyengar, een van die eerste bekende yogi's van die 20ste eeu, en skrywer van die klassieke "Light on Yoga". Iyengar instrukteurs word streng opgelei om die op fisiese oefeninge te konsentreer en dit akuraat aan studente oor te dra.

Power, of Ashtanga Yoga, die styl bekend gemaak deur Madonna en Sting, fokus op sterk, vloeinde aerobiese bewegings. Bikram yoga is 'n ander Hollywood verskynsel, en word uitgevoer in 'n verhitte kamer. Kundalini, Raja en Tantric yoga en die talle ander style fokus almal op spesifieke onderdele van die groter sisteem van tradisionele yoga.

Tradisionele sisteme sluit gewoonlik ook die studie van geskrifte of heilige tekste in. Hierdie kan klassieke Indiese werke wees soos die Bhagavad Gita, die yoga Sutras (filosofiese tekste) van Patanjaly ('n antieke sage of wysheer van weleer), en ook die studie van Sanskrit, die heilige Indiese taal (vergelykbaar met die Hebreeus van die Bybelkunde). Algemene selfstudie van ander sprituele tekste soos die Bybel word ook aangemoedig.

Die res van hierdie webwerf bied 'n verdere blik (in Engels) op yoga en my interpretasie daarvan.

Skakels

Joga vir beginners - artikel in Die Burger, Februarie 2007.

My Towerlig webwerf sluit 'n Zen geinspireerde produksie van my musiek en gedigte met o.a. voorlesings deur Petra Mulder.
Luister na verskeie klankgrepe uit die produksie, en luister ook na 'n gesprek oor Oosterse gelowe tussen Petra Mulder en Helene De Villiers wat ek by die Stellenbosch se Woordfees opgeneem het.
Lees uittreksels uit Martin Versveld se vertalings van 'Die lewensweg van die Lao Tsu', 'n klassieke teks van die Chinese Taoisme (
uittreksel), wonderlike kommentaar op onderwerp van spirituele Zen.


Mees onlangste hersienning van hierdie blad: 07 / 01 / 08.








SITE MAP / HOME