|
SITE MAP /
HOME /
Contact
Being Yoga Studio / Being Well-being / Being Music and Audio / Five Keys to Well-being |
|
Haar ma waarsku haar gereeld dat sy nie te veel hooi op haar vurk moet laai nie; anders bly eendag net ’n klossie hare van haar oor. Die ma het gelyk – sy is hopeloos te besig, skryf Sophia van Taak.
Die nuwe jaar is skaars drie weke oud en ek voel al lewensmoeg. Die kort vakansie is in ’n oogwink verby, en as ek so na die hoop werk op my lessenaar staar, voel dit nie of ek net nou die dag ’n nuwe dagboek oopgeblaai het nie. Boonop sit ek met ’n verkoue wat nie wil wyk nie, en daardie kosbare stukkie ek-tyd waarna ek hunker, breek maar net nie aan nie. Dis heeldag en aldag ’n gejaag om dit en dat klaar te kry, sodat ek by die volgende aantekening op die lang lys kan uitkom. En dan die volgende?en die volgende... Voel ook jy so? Staan ook jy soggens moeg op, met die pyn steeds tussen jou blaaie van die skeef sit gister voor die rekenaar? Dan is dit hoog tyd dat ons ’n paar dinge verander. Wraggies, dit is mos nie hoe die lewe in oorvloed behoort te voel nie!
’n Paar maande gelede beland ’n klein wit boek getiteld Five Keys to Well-being op my lessenaar. Ek het nie dadelik tyd om dit deur te blaai nie (hoe het jy dit geraai?) en plaas dit vir eers op die groeiende hoop van wat so spoedig moontlik gelees moet word. Maar die boek bly om twee redes my aandag trek: eerstens omdat die titel my hoop gee dat die ewige wanbalans in my leefstyl reggestel kan word, en tweedens omdat ’n CD ingesluit is. Dié word in die speler gesit terwyl ek met die ander hand my middagete uithaal en my e-pos deurgaan. (Ons vroue kan mos multi-task.)
Teen alle verwagting in is dit nie musiek wat my deur die oorstukkies bereik nie, maar ’n strelende manstem wat my deur die inhoud van die boek praat, my vertel hoe om korrek asem te haal, regop te sit, my gedagtegang af te skakel. My vingers gaan lê stil op die toetsbord, en ek hou op kou aan die happie brood. Die stem het my onverdeelde aandag, en ek kan nie anders as om soos ’n gehipnotiseerde te lui ster nie. “Settle into a comfortable position and close your eyes,” sê die skrywer, Johann Kotze, op die CD. “Disengage from thinking. Become aware of each moment?.?.?.” Dit voel of ek in rus wegsink.
Waaroor gaan die boek?
Five Keys to Well-being vertel jou van die interaksie tussen ’n goeie postuur, effektiewe asemhaling, genoeg beweeglikheid, ontspanning en streshantering. Hierdie elemente is interafhanklik, en ’n gebrek aan enigeen het ’n negatiewe uitwerking op ’n mens se algehele welstand.
Met laasgenoemde word nie net verwys na jou vermoë om verkouekieme te beveg nie, maar na jou holistiese menswees wat die liggaam, verstand én siel insluit. Ek spoor die skrywer op in ’n gimnasium op Stellenbosch waar hy jogaklasse aanbied. Johann se slanke figuur en rustige, selfversekerde houding is seker die beste getuienis dat die Five Keys to Well-being werk. Daar is ’n sagte standvastigheid aan hom, ’n diepe insig, asof hy die raaisels van die heelal verstaan. Ek steek ’n voeler uit om die waters te toets: Is joga vir hom ’n spirituele ding, ’n lewensanker wat ondersteuning bied wanneer die storms woed?
Sy antwoord is deurdag: “Spiritualiteit en filosofie is deel van joga. Maar tog is joga nie in kompetisie met enige godsdiens nie. Wat ’n mens via joga leer, is eerder die boustene vir enige geloof, sport of ander kanaal waarlangs jy jou lewenservaring wil verryk. Dit is die terapeutiese grondbeginsels daarvan.” Ek por hom aan vir nog inligting. Sommige mense redeneer dat joga onversoenbaar met hul godsdienspraktyke is. Johann knik begrypend. “Kyk, vir my is dit ’n onverbeterlike module van fisieke oefening wat terselfdertyd diep op jou gemoed inwerk. Die spirituele komponent is ooreenstemmend met die leerstellings van die grootste wêreldgodsdienste – dinge soos respek, deernis en welwillendheid. “Die Five Keys leer jou hoe om jou liggaam as ’n tempel te heilig en dit op ’n eerbiedige wyse sagkens in stand te hou. Terselfdertyd kry jou verstand ook die kans om te rus, wat dan weer jou siel die geleentheid gee om in stille meditasie te verkeer.”
En het ons almal dít nie broodnodig nie? So ’n bietjie ek-tyd wat jou hele menswees versterk, jou ’n slag weer vul met verwondering oor die lyf en denke se vermoëns en die onpeilbaarheid van die siel? Buitendien, ’n gelukkige, uitgeruste, gesonde werker is ’n goeie werker.
Five Keys to Well-being toegepas in die werksplek
Kantoorwerkers spandeer al hoe meer ure by ’n lessenaar. Ons sit verkeerd, en dit kan nie net aanleiding gee tot ongemak en pyn nie, maar ook ’n verskeidenheid wanbalanse in die liggaam as organisme, wat dan weer verskillende siektetoestande tot gevolg kan hê. Die verkeerde postuur maak effektiewe asemhaling onmoontlik, dit plaas onnodige druk op die organe en kliere en die ruggraat is nie in die posisie om die res van die skelet soos dit moet te ondersteun nie. Dit is egter nie moeilik om ’n gesonde liggaamshouding aan te leer nie. Aanvanklik sal jy bewustelik ’n sekere posisie moet inneem, maar soos wat jou spiertonus daaraan gewoond raak, sal die liggaam naderhand vanself reg sit of staan. Hier is ’n maklik oefening vir by die huis:
• Verwyder jou klere en gaan staan voor ’n vollengte spieël. Plant jou voete parallel op die vloer, in lyn met jou heupe. • Die voetbrug is net genoeg gelig om te voorkom dat jou voet binne-toe draai (’n posisie wat baie stremming op die enkels plaas). • Kyk na jou nek in die spieël. Asem in en lig jou kop op. Laat sak jou ken effens met die uitasem en ontspan jou skouers. Jou nek lyk nou slanker en voel meer ontspanne. • Fokus nou op jou sye, net bo die heupbene. Maak jou bolyf, vanuit die heupe, reguit terwyl jy inasem en kyk hou jou maag en borskas slanker vertoon. • Ontspan jou knieë effens. Moenie hulle buig nie, maar maak hul net sag. Hierdie subtiele aanpassing verander die hoek van die pelvis effens, bring ook jou stuitjie in en ontspan die lae rug • Voel hoe jou hele ruggraat reguit raak en let op dat jou ken nie meer uitstaan nie. Jou lyf vertoon nou slanker en jy voel ook ligter, asof jou hele lyf aan ’n onsigbare toutjie vanuit jou kroontjie hang. • Jou ruggraat se kurwes verkeer nou nie meer onder onnodige druk nie, en jou hele raam is gemaklik in balans. • Laat jou arms ontspanne vanuit die skouers langs jou sye hang en voel hoe die spiere wat jou regop hou, nie meer ooreis word nie. Probeer om hierdie posisionering van jou liggaamsdele te onthou en altyd toe te pas wanneer jy staan. . • Oefen ook om met dieselfde postuur rond te loop.
Let wel: Die volgende tekste is die onderskrifte vir die meegaande foto's geplaas naas die bostaande artikel.
Sit regop, Sophia!
Johann leer my hoe om met die regte postuur te sit: Sit regop op ’n stoel, sonder om van die rugleuning vir ondersteuning gebruik te maak.
Plaas jou voete heupwydte uitmekaar en stewig op die vloer. Jou hande kom, palms na onder gedraai, op jou knieë en jou arms is reguit.
Maak jou oë toe. Ontspan jou heupe en midderif. Fokus op dié plekke waar jou lyf aan oppervlates raak - jou voetsole plat op die vloer,
jou boudbene op die sitplek. Hierdie punte is die soliede basis waarvandaan die ruggraat nou reguit gemaak kan word.
Ontspan jou maagspiere, asem stadig en diep in en laat jou midderif nóg verder verslap met ’n lang, kalmerende uitasem.
Lig jou kroontjie op met die volgende inasem en strek jou nek lank uit - sonder enige inspanning. Let daarop om nie jou lae rug te
buig nie. Hou jou kop in hierdie posisie terwyl jy uitasem en ontspan die skouers. Fokus op die afwaartse ankering van swaartekrag
elke keer wat jy uitasem. Jou ontspanne bolyf laat nou meer ruimte vir inaseming toe en geen spiere word ooreis om jou regop te hou nie.
Strekoefening by die stoeltjie
(table stretch)
Strek by jou lessenaar: Staan op en maak só wanneer jou blaaie en rug seer word van al die gesit. Staan effens verder as ’n armlengte vanaf ’n stoel of tafel, met jou voete heupwydte van mekaar geplant. Buig vooroor en plaas jou hande op die meubelstuk vir ondersteuning. Wikkel jou voete nou ver genoeg agtertoe sodat jou bolyf en uitgestrekte arms ’n reguit lyn, parallel met die grond vorm. Jou bolyf moet ’n 90º hoek met jou bene maak. Sorg dat jou voete, enkels en bene stewig geplant is. Kyk af vloer toe. Voel jou die spiere in jou bene en skouers strek. Haal diep asem en voel hou die strek verdiep met die uitasem. Laat die stres in jou skouers en borskas toe om met elke asem uit te vloei. Haal ’n hele paar keer diep asem totdat jou bolyf gemakliker en losser voel.
Op die hande balans, knieë op een elmboog Johann Kotze, ’n joga-instrukteur en skrywer van die boek Five Keys to Well-being, wys watter mate van dissipline, beweeglikheid en soepelheid deur gereelde joga-oefe ninge bereik kan word.
Reik na die sterre!
(standing back bend) Staan gemaklik regop op albei voete. Haal ’n paar keer diep asem en voel jou jou liggaam by die hepe,
bene, enkels en voete geanker word. Lig jou arms - palms na binne - stadig op terwyl jy insasem. Strek jou arms uit tot in die vingerpunte,
sonder om die skouers op te trek. Trek gemaklik vorentoe en laat jou heupe en skouers sak op ’n uitasem. Trek jou borskas wyd oop
met die volgende asemteug, lig jou ken op en druk jou arms verder agtertoe, met die skouers dieper af.
Bly in dié posisie en haal ’n paar keer diep asem. Bring jou liggaam sagkens, op die maat van asemhalings, terug
na die staande posisie en herhaal die strek, dié keer met die ander voet wat vorentoe tree.
Strek soos ’n hond:
(Dog stretch)
Staan handeviervoet op jou palms en knieë. Jou hande is onder jou skouers, vingers uitgesprei vir balans, en jou kniekoppe is in
lyn met jou heupbene. Asem liggies in en maak jou bene so reguit as kan terwyl jou hande op die vloer bly. Asem uit. Asem weer in
en verleng die bene en arms, terwyl jy jou skouers afwaarts en in die rigting van jou bene druk. Asem uit. Asem in en lig die heupe op
sodat jy op jou tone staan. Asem uit en druk die skouers selfs verder in die rigting van jou kniekoppe. Druk jou hake terug tot op die
vloer en voel hoe die spiere van jou bolyf kragtig strek. Hou jou arms reguit en probeer jou ruggraat, met behulp van asemhaling, verder
en verder reguit strek. Laat jou kop slag hang en voel hoe die ruggraat verleng en die heupe lig.
Lees hier meer oor Yoga in Afrikaans op hierdie werf.
|
| |